Het Open Boek Texel

< Terug




Recensie uit Die Burger, Kaapstad


Aagje se briewe is seldsame geskiedenis
Dan Sleigh



KIKKERTJE LIEF - BRIEVEN VAN AAGJE LUIJTSEN, saamgestel deur Perry Moree. Uitgeverij Het Open Boek, Texel 2003. (Hardeband, 206 bladsye, ISBN 9070202344, prys onbekend)


HIERDIE merkwaardige versameling briewe van 'n 18de-eeuse huisvrou aan haar man op see eggo dié van ander vroue uit die Kaapse VOC-tyd, soos Aletta Uytenbogaert en Marya Hugo ('bedroeft totter doot'), wat hul hart uitgepraat en hul briewe meer as een keer in trane onderbreek het. Dit weerspieël ook die geduldige, berustende houding wat Jane Austen se woorde: 'The only privilege I claim for my own sex is that of loving longest when hope is gone,' (uit Persuasion) in herinnering roep. Dit is selde dat die publiek sulke persoonlike korrespondensie onder oë kry.
Ewe merkwaardig is die rede waarom die briewe bewaar gebly het, en daarin lê 'n sterk Kaapse konneksie. Agttien van Aagje se briewe was in haar man se seekis op die retoerskip Parel, wat in 1781 saam met ander rykgelaaide VOC-skepe in Saldanhabaai aan die Britse vloot oorgegee is.
In 1994 het die Nederlandse geskiedkundige dr. P. Moree hulle in die Public Records Office in Londen opgespoor. Moree is ook die redakteur van hierdie bundel.
Aagje was skaars 20 toe sy in 1776 getroud is met Harmanus Kikkert, stuurman in diens van die Kompanjie. Hy is die 'Kikkertje lief' van haar briewe. Hy laat haar swanger agter toe hy ses maande later Ooste toe seil, op 'n reis van 18 maande. Aagje en Harmen was uit bekende families op Texel, 'eiland van vissers en oosinjevaarders', en het geweet dat die see hulle sou skei. Maar hulle het nie geweet dat Harmen se werkgewer amper bankrot was, dat oorlog teen Brittanje voorlê, dat pokke in hul huis sou toeslaan, of dat Harmen weens pligsversuim sy rang en goed in 'n hof sou verloor nie.
In die eerste vier jaar van haar getroude lewe sien Aagje haar man maar enkele kere, en moet sy hom met haar briewe aan haar verbind, 'n lyn wat soos die tyd verloop, langer en dunner word... Elke seereis duur omtrent twee jaar. As Harmen tuis kom, vertrek hy ná twee of drie maande weer en laat haar swanger agter. As hul kinders gebore word, is sy alleen. Haar briewe word Kaap toegestuur; miskien vind dit hom daar. Die Kaapse regering stuur dit Ooste toe; dalk vind dit hom daar. Sy weet nie of hy nog leef of waar hy is nie. Hy vervaag in haar geheue. Sy skryf aan 'n herinnering. Dit is asof sy aan 'n dooie skryf, maar weier om dit te aanvaar.
Haar briewe toon 'n warm en openlike toegeneentheid tot haar man, wat haar susters van die Victoriaanse tyd moontlik vreemd sou vind, maar wat vele hom sal beny. Sy sê sy verlang na hom in haar bed en na sy geselskap. Haar individuele stem is ná twee eeue so vars en duidelik asof sy dit pas geskryf het. Sy skryf die Texelse dialek (lae muurtjies is leege wandjes), en haar fonetiese spelling is waarskynlik ook haar uitspraak, sodat sy amper hoorbaar word. Haar handskrif is sterk en egalig. Haar taal is ryk aan emosie: '... ik leef als een verlaten mens, eensaam en mistroostig, hopeloos ongerust.'
Jare sleep verby in die huisie met die lae mure. Sy vertel die dorpsnuus, van hul kinders se groei en uiteenlopende geaardhede, die kom en gaan van skepe, haar mooi porselein. Haar oudste praat al, van 'n laai vol lekkers wat sy pa gaan bring, uit die suikerryke Kandy of Indië. Haar jongste roep: 'Taat, taat' wanneer hy 'n man buite sien verbygaan, ('taat' is Texels vir vader). Deur die nalatigheid van die eiland se amptenary kom pokke aan wal en sterf vele, ook hul jaar oue Klaas: '... mijn hart is overstelpt van droefheijd, want ... mijn pronk is weg, hij was een beeld der beelden, goedhartig en soet, en wat een liefde ik van dat kind gehad heb kan ik u niet schreijven. De brief is nat van traanen en droefheijd, lief.'
Die briewe is nie net woordeliks getranskribeer nie, maar ook afgedruk op 'n agtergrond soos growwe outydse papier. Die teks is kleurryk geïllustreer met argivale kaarte en skilderye van die eiland, hul dorp en die skepe wat hulle geken het. 'n Bronnelys ontbreek, maar die nodige inligting is vervat in uitgebreide en besonder interessante voetnotas. Ook die 16 illustrasies is volledig verantwoord. Die omslagfoto, wat Aagje by haar skryftafel voor die raam voorstel, lyk soos 'n komposisie deur Vermeer: Inderdaad is die briewe 'n venster op haar persoonlikheid, op haar lewe en op die wêreld waarin sy geleef het.
Die boek is 'n seldsame stuk geskiedenis uit die mikrokosmos van die VOC, meestelik geredigeer en besonder mooi gepubliseer.


- Navrae omtrent die beskikbaarheid van die boek kan onder meer gedoen word by die Huis der Nederlanden in Pinelands, (021 531 5831).
- Dan Sleigh is 'n geskiekundige en skrywer van die bekroonde roman Eilande.